Maatskaplike vooruitgang

Maatskaplike vooruitgang of sosiale vooruitgang word gedefinieer as die vooruitgang van die samelewing wat die samelewing uit die algemene oogpunt verbeter, soos gesien deur dié wat die verandering veroorsaak. Die begrip, maatskaplike vooruitgang, is in 19de eeuse maatskaplike teorieë ingevoer, veral in die teorieë van maatskaplike ewolusioniste soos August Comte en Herbert Spencer. Dit was teenwoordig in die Verligting se geskiedenisfilosofieë.

Op die stadium toe belangegroepe met die gedagte van maatskaplike vooruitgang vorendag gekom het, is dit as geweldig radikaal beskou. Die rede hiervoor is dat mense tot op daardie stadium die maatskaplike orde as onveranderbaar, en dikwels deur 'n hoër gesag bepaal, beskou het. Met ander woorde sou uiteindelik die gode die maatskaplike stelsel geskep het, en die stelsel asook die plek wat mense binne daardie stelsel beklee het was ewigdurend, konstant en permanent (maar wel siklies, soos die seisoene). Niks het werklik verander nie, en hoe meer dit verander het hoe meer sou dit dieselfde bly; die klem is geplaas op die waarneem van die konstante, ewigdurende aspekte in die lewe. Hierdie opvatting oor die samelewing was baie konserwatief, aangesien selfs wanneer verandering plaasgevind het, dit slegs 'n oppervlakkige aspek van 'n onderliggende maatskaplike orde was, wat ewigdurend sou wees. Die beskouing was weer gegrond op 'n lewenswyse waarin min verander het (behalwe seisoenaal, soos die weer of die stadiums in 'n mens se lewe). Mense was vasgevang in hulle plek in die lewe en het nie die opsie of moontlikheid gehad of verwag om uit hulle bestaande stand te ontsnap na 'n nuwe stand nie.


Developed by StudentB